2009-03-18

Vroue probeer glo lyk se pensioen in die hande kry

Mar 17 2009 08:44:19:717PM

Ondersoek gaan gedoen word na 'n voorval toe drie vroue glo 'n dooie man
in Witbank, Mpumalanga, in 'n rolstoel in die poskantoor ingestoot het –
sodat hulle sy ongeskiktheidspensioen kan trek.
Die voorval het op 6 Maart by die hoofposkantoor in Paul Krugerstraat
gebeur. 'n Betroubare bron wat alles gadegeslaan het, maar nie genoem
wil word nie, het gesê dinge het uit die staanspoor "nie lekker gelyk nie".
Die man se kop het agteroor gehang en sy mond was wawyd oop, het die
bron gesê.
"Toe die vroue daarop gewys word dat die man darem uitsonderlik
ongemaklik moet wees, het een so ewe sy kop regop gehou – totdat dit uit
haar hande gegly en vooroor geval het."
Die man was om sy middellyf en bene met bande aan die rolstoel vasgebind.
Wat nog erger is, sê die bron, is dat die vroue die rolstoel by die
poskantoor geleen het.
Toe die klerke, wat toe al agtergekom het die man is dood, weier om sy
pensioen uit te betaal, het die vroue glo gepleit hulle het nie geld om
hom te begrawe nie.
'n Toesighouer by die pensioentoonbank het toe glo met 'n inkblokkie om
die toonbank geloop, die dooie se vingerafdruk op die uitbetalingsvorm
gesit en die R960 aan die vroue gegee.
Hulle het die lyk buite in 'n motor gelaai, die poskantoor se rolstoel
teruggebring en weggery.
Mnr. Senzeni Ngunbeni, woordvoerder van die South African Social
Security Agency (Sassa), sê die agentskap gaan beslis die saak ondersoek.
Hul kantoor in Witbank sal vandag al met die poskantoorowerhede, wat as
agentskap vir pensioenuitbetalings optree, skakel, het hy gesê.

0 comments:

© 2006 onwards The HMVH Corporation BBS Online.
Any part of the content or the blog may be reproduced without prior written permission... ons gee nie 'n fok om nie!