2017-06-18

Fwd: Gee vir dié buffel 'n Bell's!

As dit nie vir selfoonfoto's was nie, sou niemand kon glo dat 'n
buffel homself in die kroeg – tussen die Bell's en Klipdrift nogal –
van Hlosi Game Lodge in Paterson tuisgemaak het nie.

Dié grootmeneer het eers in die swembad "geduik" vir 'n lafenis
voordat hy 'n uiltjie in wooneenheid no.1 gaan knip het. Die groot
dors het hom waarskynlik ná sy Sondagmiddagslapie oorval, want hy het
toe sy weg na die kroeg gevind.

"Hlosi is op 'n private wildreservaat, Amakhala, gebou," het Shane van
Moerkerken, skakelbeampte hier, verduidelik. "Die buffelbul het eers
'n paar dae teen die heining langs beweeg voordat hy nader gekom het
om water uit die vlak swembad te drink, soos wat die diere maar
gereeld doen. Hy het daarna egter in die soutwaterbad op die erf
geklim – maar darem net halflyf."

Volgens Shane van Moerkerken het die bul trappies langs uit die
soutwaterbad geklim en 'n paar happies gras geniet voordat hy by die
naaste wooneenheid in is om te rus.

Dis ná sy slapie dat hy koelte (en dalk nóg lafenis) teen dié dag se
hitte van 36 °C gesoek het. Die kroeg was toe sy heel beste opsie.

"Hy het eers koelte onderdak – langs die kroeg se ingang – gesoek. Hy
het nuuskierig, maar versigtig, binnegegaan asof hy niks wou omstamp
nie," het Van Moerkerken gesê. "Hy het 'n wyle by die kroeg uitgehang
en rondgesnuffel voordat hy by die ander deur, ewe versigtig, uit is.
Die buffel is intussen weer veilig terug gelei na die wildreservaat."

Hoewel die oord só ingerig is dat olifante, buffels en selfs voëls
hier water kan drink, is dit glo die eerste keer dat 'n dier homself
só tuisgemaak het.

"Ons gaste is op 'n veilige afstand gehou, net vir ingeval. Maar op
die keper beskou, was die bul se 'kuier' ietwat van 'n
vermaaklikheid," het hy spottend gesê.

0 comments:

© 2006 onwards The HMVH Corporation BBS Online.
Any part of the content or the blog may be reproduced without prior written permission... ons gee nie 'n fok om nie!